Ekspo datums

Agri Cape Week 15-17 Apr '10
Agri Mega Week 15-17 Sep '10
Overberg Prestige Perdeskou 4-6 Feb '10


Welkom

Nuusvrystelling uitgereik deur die Agri Mega Kantoor op 2 Maart 2010.

Navrae: Leensie Streicher

 

Produsente welkom by Agri Cape Week

Agri Cape Week is ‘n landbou ekspo wat aangebied word deur die Agri Mega Groep en fokus spesifiek op die vrugte-, wyn-, en groentebedrywe in die Wes-Kaap.   Agri Mega Groep het al bekendheid verwerf vir die jaarliks Mega Week wat gedurende September op Bredasdorp aangebied word, tydens hierdie ekspo word daar veral gefokus op die graan-, suiwel-, en veebedrywe van landbou.Landbouprodusente in die vrugte, wyn en groente bedrywe word uitgenooi om te kom deel in die 2de Agri Cape Week wat plaasvind van 15 – 17 April 2010 by die Hoër Landbouskool Boland, Agter Paarl.

 

10 Redes hoekom jy as produsent nie Agri Cape Week mag misloop nie!

1.    Alternatiewe vrugte

Geleenthede vanuit onsekerhede in aksie: die publiek sowel as produsente die kans om die geleenthede in hierdie markte te ondersoek. Vrugtesoorte soos vye, granate, persimmons, haselneute en natuurlik Olywe, wat in ‘n aparte uitstalling hanteer word, sal by uitstallings van verskillende rolspelers vertoon word.

‘n Groot fokus op olywe sal met ‘n Nasionale olyfkonferensie produsente in gesprek plaas met verskeie buitelandse sprekers van Italië en Spanje.  Die konferensie word aangebied deur die SA Olyfindustrie Assosiasie in samewerking met die LNR en navrae kan gerig word aan Reinette Basson by 021 863 0397 of eventsadmin@agrimega.co.za. Koste:  R250.00 p.p.

2.    VinPro inligtingsdag:  Donderdag 16 April 2010

Die VinPro Streeksinligtingsdag word vanjaar weer tydens Agri Cape Week aangebied. ‘n Uitsonderlike plan met uitstekende sprekers soos Duncan Savage, van Cape Point Vineyards, Prof van Wechmar van die Universiteit van Stellenbosch en Dr Marianne Venter van Biocult. Vir registrasie of meer inligting, kontak Lee-Anne Morris by 021 807 3267 of e-pos: morris@vinpro.co.za.

3.    Spesiale fokus op Vleisbeeste:  Donderdag 16 April 2010

‘n Sussex beoordelaarskursus, Vleisbees Inligtingsdag, Interras Vleisbeeskampioenskap, en Vleisbees veiling is alles op die spyskaart vir produsente in die vleisbeesbedryf. Kom luister na rolspelers in die bedryf soos Gerhard Schutte, Hoof Uitvoerende Beampte van die Nasionale RPO, Dr Jannie van der Merwe, ‘n veearts van Darling en Wolf Edmayr, Hoof Uitvoerende Beampte van BKB.

4.    Waardekettinguitstallings

‘n Nuwe konsep, met die potensiaal om die bemarking van landbouprodukte op sy kop te draai. Kom wees deel van die uitstallings waar die hele waardeketting van produkte verduidelik vanaf grondvoorbereiding en aanplanting tot oes, verwerking en bemarking en dit behels dat verskeie skakels in die waardeketting van ‘n produk (van die saad/bloom/steggie-verskaffer, tot die verpakkers van produkte) die hele proses van die verbouing van ‘n vrug/groente/produk verduidelik. Dit is grootliks op die breë publiek gerig en uitstallers word aangemoedig om interaktiewe uitstallings te hê.  Daar gaan verrskillende bedrywe by die waardeketting- uitstallings betrek word:  Olywe, Sagtevrugte, alternatiewe vrugte, groente en tafeldruiwe. Produsente en uitstallers wat belangstel om deel te neem aan hierdie uitstallings kan vir Reinette Basson kontak by
021 863 0070 of eventsadmin@agrimega.co.za

5.    Demonstrasies

Kom kyk self hoe implemente werk voordat jy koop. Daaglikse demonstrasies word aangebied deur uitstallers en as jy hou van wat jy sien, kan jy sommer die transaksie beklink terwyl jy die ekspo besoek. Demonstrasies van grondverskuiwingstoerusting, algemene implemente en wingerdspuite en –besproeiing word beplan. Verskaffers wat belangstel om uit te stal en deel te neem aan die demonstrasies, kan vir Cornea Geldenhuys kontak by 028 424 2890 of e-pos by cornea@agrimega.co.za.

6.    Pampoenfees

Hoër Landbouskool Boland bied in samewerking met Freshmark, Die Shoprite Groep se vars groente- en vrugte verkrygingsarm, hul jaarlikse Pampoenfees aan tydens Agri Cape Week 2010.  Reuse pampoene, wat hoofsaaklik op gewig beoordeel word, word ingeskryf en sal tydens die ekspo, by Shoprite/Checkers se uitstalling vertoon word en die pryse sal op Saterdag 17 April aan die wenners oorhandig word.

7.    Agri Toerisme

‘n Unieke fokus by Agri Cape Week: Kom leer hoe jy jou plaas en bestaande infrastruktuur kan omskep in ‘n winsgewende inkomste, leer by ander produsente wat reeds die vrugte pluk en skuur skouers met die Agri Toerisme kenner, Peter Myles wat tydens die Agri Toerismekonferensie gaan optree as gasspreker. Navrae en besprekings by Elma Brand by 021 863 0397 of events@agrimega.co.za.  Koste:  R200.00 p.p.

Produsente wat reeds voordeel trek uit Agri Toerisme word uitgenooi om Vrydag 16 April ‘n Agri Toerisme werkwinkel by te woon.  Benut hierdie geleentheid om potensiële kliënte te identifiseer en besprekings by u onderneming te verhoog; ‘n onmiddellike opbrengs op jou belegging te verkry;  Handelsmerk bewustheid te vestig en te verbeter; jou werkers die geleentheid bied om ondervinding op te doen in ‘n uitstallersomgewing en waardevolle lesse om te leer in kliënteverhoudings.  Ervaar wat ander boerdery ondernemings doen om voordeel te trek uit die geleenthede in Agri-toerisme. Vir meer inligting, kontak Anne-Marie le Roux by 021 863 0070 of megaevents@agrimega.co.za.

8.    Damesprogram:  Donderdag 15 en Vrydag 16 April 2010

Wees jou vrou se held vir die dag en bring haar saam om die puik daaglikse damesprogramme tydens Agri Cape Week by te woon. Dit sluit onder andere ‘n laat-ontbyt in.  Die dag word in samewerking met Tuis-tydskrif en Die Gieter, aangebied.  Mabel Steenkamp, eienaar van Die Gieter, ‘n blomme- en dekorwinkel in die Paarl, is die gasspreker tydens die geleentheid.  Daar is ook ‘n spesiale geleentheid vir vroue en hul huishulpe. Navrae en besprekings by Elma Brand by 021 863 0397 of events@agrimega.co.za. Koste:  R200.00 p.p.

9.    Kookwater skolerugby

Boland Landbouskool spook sake op die rugbyveld uit teen Diocesan College (Bishops). Verskeie spanne in die verskillende ouderdomsgroepe op Saterdag 17 April van vroeg die oggend af wedstryde speel, met die twee 1ste spanne wat die hoogtepunt van die dag se rugbyverrigtinge sal wees. As jy ‘n oud-skolier is, kom ondersteun gerus jou alma mater!

10.  Gratis toegang en Verskeie ander geleenthede

Bring jou kollegas, plaaswerkers, buurman, jou vrou en kinders! Toegang tot die ekspo is gratis en met al die gebeure en geleenthede by wat Agri Cape Week 2010 bied, is dit beslis die moeite werd om te besoek.

Ander geleenthede sluit in ‘n sake-ontbyt (bywoning op uitnodiging) met Agri SA President, Johannes Möller en Roelof Botha as sprekers, ‘n opwindende Vurkhyser kompetisie, ‘n Waterberaad, Landbou Arbeidskonferensie en vele meer.